AfriForum Sport neem hande met Helpende Hand en die VlokSkop Stigting om jong sporttalent te bemagtig wat nie toegang tot die nodige hulpbronne het nie.

Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van ontwikkeling. Sport bied kinders die geleentheid om fisies gesond te wees, maar bied ook die geleentheid vir emosionele en verstandelike ontwikkeling.

Sport leer jou oor teleurstelling en hoe om dit te verwerk. Dit is ’n belangrike lewensles wat handig te pas kom in die lewe en ook in die werkplek. Sport leer ’n mens ook hoe om saam met ’n groep mense te werk om ’n probleem op te los. Die kritieke vaardighede wat die Vierde Nywerheidsrevolusie van ons verg, naamlik probleemoplossing, kritiese denke, kreatiwiteit, emosionele intelligensie en aanpasbaarheid kan op ’n jong ouderdom reeds aangeleer word. Dit versterk jou kanse om aan te pas in ’n wêreld wat konstant besig is om te verander.

Die doel van die projek is om tekkies en/of toks aan hoërskoolleerders te skenk wie se ouers dit nie finansieel kan bekostig nie. Finansies moet nooit die rede wees hoekom kinders nie aan sport deel kan neem nie. Kom ons vat hande en sorg dat ons jeug geveter en gesool is vir die lewe.

Tekkies & Toks is ’n inisiatief wat gedryf word deur Helpende Hand en die VlokSkop Stigting en AfriForum Sport is trots om hierdie bemagtigingsprojek te ondersteun.

Besoek www.tekkiesentoks.co.za vir meer inligting.

Funksies

Daar is tans geen gebeure nie.