AfriForum Sport het ten doel om verskeie rolspelers in sport te bemagtig deur toegang tot hulpbronne en ontwikkelingsgeleenthede.

Ons beoog om 2022 af te sluit met ’n sportkongres waartydens verskeie kundiges hul kennis met ons skolesportafrigters gaan deel wat hul dan in staat sal stel om behoorlik te beplan vir hul sportseisoene van 2023 en om selfs ’n nog groter impak in kinders se lewens te maak deur hierdie platform waar hul as mentors optree.

Van die onderwerpe wat tydens die kongres bespreek gaan word, sluit die volgende in:

  • Opstel van ’n missie en visie vir skolesport.
  • Die rol wat sport tydens eksamens speel
  • Hoe om ’n skolesportgeleentheid aan te bied.
  • Versekering van optimale fisieke kondisionering van kinders.
  • Versekering van intersportkodesamewerking vir optimale prestasie.
  • Beplanning van die seisoen om optimale prestasie en minimale beserings te verseker

Die kongres word deur AfriForum Sport in samewerking met Duitser Bosman en ander groot rolspelers in die sportbedryf beplan.
Omdat dit vir ons belangrik is om soveel moontlik skoleafrigters te bemagtig met hierdie geleentheid, doen ons graag ’n steekproefopname om te bepaal wat die mees gepaste tyd vir die kongres sal wees. Ons weet dat skoleafrigters ook die taak opgelê is om tydens eksamens en ook die merk van vraestelle toesig te hou en daarom wil ons verseker dat ons tydsberekening die meeste afrigters se beskikbaarheid sal pas. Ons wil dus graag versoek dat jy die onderstaande skakel volg en die kort vraelys voltooi.
Neem kennis dat die kongres slegs 200 mense kan akkommodeer so hou jou oë oop vir wanneer die registrasies oopgaan en bespreek so gou moontlik jou sitplek. Hierdie kongres wat oor twee dae sal strek en normaalweg teen R2 000 p.p. aangebied word, word hierdie jaar deur AfriForum Sport aangebied teen slegs R400 p.p. Die kongres sal in Pretoria aangebied word en gaan werklik ’n geleentheid wees om jou afrigtersloopbaan tot die volgende vlak te neem en baie waardevolle netwerke te bou. Moet nie hierdie geleentheid mis nie.