Sport lewer ’n belangrike bydrae tot nasiebou! Fietsry is een van die top-10 sportsoorte in Suid-Afrika, en van die onderafdelings van fietsry word bergfietsry die meeste beoefen. Die twee gewildste en bekendste subdissiplines van bergfietsry is olimpiese tipe veldfietsrenne (“Cross Country Olympic”, afgekort as XCO) en veldfietsrymarathons (“Cross Country Marathon”, met die afkorting XCM). XCO word egter beskou as bepalend tot bergfietsryprestasie. AfriForum Sport beplan om fasiliteite en geleenthede daar te stel om deelname aan bergfietsry op die volgende maniere aan te moedig:

Inleidende blootstelling moet nie oormatig oorweldigend en tegnies uitdagend wees nie en moet toeganklik wees vir fietsryers met verskillende vaardigheidsvlakke. Leerders van deelnemende skole moet aangemoedig word om aan ’n skoleontwikkelingsliga deel te neem sodat bewustheid van die sport op ’n prettige wyse by die deelnemers tuisgebring word!

Die fisiese en tegniese vereistes van kompeterende XCO is baie anders as dit wat in die skoleontwikkelingsliga van toepassing is. Dus word hierdie voorbereiding gesien as die volgende stap vir voornemende deelnemers aan die volgende vertakkings van die sport:

  • XCR (“Relay”), XCO TT (“Time Trials”) en XCE (“Eliminator”). XCR, XCO TT en XCE bied ’n gebruikersvriendelike kans om op ’n effense meer tegniese vlak aan kompeterende XCO-tipe geleenthede deel te neem. Deelnemers geniet hierdie vorme van bergfietsry, en hulle word geleidelik aan die fisiese en tegniese uitdatings van kompeterende XCO blootgestel. Dit verseker dat hulle toegerus word met inleidende fietshanteringsvaardighede.
  • Die XCO Liga. Die XCO Liga moet aan deelnemers die geleentheid bied om XCO te ervaar, maar op XCO-roetebane wat hulle kan bemeester. Hierdie roetebane moet noukeurig ontwerp, spesiaal gebou en versorg word sodat dit vir deelnemers ’n regte XCO-simulasie bied sonder dat dit uitermatig uitdagend is. Roetebane moet ontwerp word om ryers met die basiese fietshanteringsvaardighede toe te rus wat nodig is vir XCO op kompeterende vlak.  

Die wedrenne in die provinsiale XCO Beker-reeks en Kampioenskapreeks word ontwerp om uitermatig uitdagend te wees. Die opleidingsgeleenthede is daarop gemik om te verseker dat deelnemers toegerus is met intermediêre tot gevorderde fietshanteringvaardighede. Deelnemers word blootgestel aan die fisiese en tegniese uitdagings om met selfvertroue aan nasionale en internasionale XCO-geleenthede deel te neem.

  • XCO. Die roetes en kompetisie in nasionale XCO Beker-reekse en XCO Kampioenskapreekse vereis soortgelyke fisiese bekwaamheid en tegniese vaardighede as renne van internasionale standaard. Hierdie XCO-geleenthede word op die hoogste vlak aangebied.  
  • XCM. Daar is nie tans in Suid-Afrika ’n nasionale reeks soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse XCO Beker-reeks nie. Ons stel ’n XCM- provinsiale reeks in die vooruitsig om beter geleenthede te skep om XCM-wedrenprestasie te verbeter. Die roetes en kompetisie in provinsiale XCM- en XCM-kampioenskaprenne vereis soortgelyke fisiese bekwaamheid en tegniese vaardighede as XCM-renne van internasionale standaard. Hierdie XCM-geleenthede moet op die hoogste vlak aangebied word.