By AfriForum Sport glo ons dat alle spankeuses en erkenning op meriete gerond moet wees. Ons is almal bewus dat sommige politici hulself só in ons land se sport ingewurm het dat die negatiewe invloed van die diskriminerende beleide wat hulle op sportliggame en -federasies afdwing met tyd al hoe duideliker word. Hoewel ons aan die een kant baie hard teen hierdie beleide moet veg, sal dit onverantwoordelik wees om terselfdertyd afhanklik van hierdie stelsel te bly.

Ons besef dat die tyd reeds aangebreek het om self verantwoordelikheid te neem vir die toekoms van sport in ons land. Daarom het ons ’n sterk fokus om reeds bestaande sportbyeenkomste te identifiseer wat op meriete gegrond is, en dié byeenkomste te ondersteun en te help ontwikkel. Waar sulke byeenkomste ontbreek, sal ons dan saam met kundiges werk om dié byeenkomste te organiseer.

Ons weet dat sukses, soos enige iets anders in die lewe, nie sommerso in jou skoot val nie. Ongelukkig moet kinders en volwassenes in Suid-Afrika wat ’n loopbaan van sport wil maak nie net hard werk om bo ander uit te presteer nie; hulle moet ook veg teen ’n diskriminerende stelsel net om ’n geleentheid te kry om raakgesien te word.

Deur te investeer in sportbyeenkomste wat op meriete gegrond is, sal AfriForum Sport saam met verskeie ander rolspelers geleenthede skep waar talent raakgesien en ontwikkel kan word en waar mense wat op meriete die beste presteer die nodige erkenning daarvoor sal ontvang.

Die tekort aan geleenthede wat blootstelling in sport behoort te verseker, is nie tot sekere ouderdomsgroepe beperk nie. Daarom sal ons met hierdie projek ook nie net op spesifieke ouderdomsgroepe fokus nie, maar eerder in byeenkomste investeer waarby ’n verskeidenheid van atlete, ongeag hul ouderdom, sal kan baat vind.

Indien jy deel van hierdie suksesstorie wil wees en ons wil ondersteun om dié projek so vinnig moontlik in werking te stel, kan jy as ’n lid by ons aansluit. Stuur gerus ’n e-pos aan sport@afriforum.co.za indien jy in persoonlike hoedanigheid of namens jou organisasie ’n eenmalige donasie wil maak.

Word deel van ’n sportgemeenskap wat saam bou. Word deel van AfriForum Sport.

Die bal is in jou hande!